Dankbaar vir die leë graf: Jesus lewe! - 7 April 2026
Ewald Schmidt
Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het. Aangesien die dood deur 'n mens gekom het, het die opstanding van die dooies ook deur 'n mens gekom. Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word. 1 Korintiërs 15:20-22, 1983-vertaling
Ons het eergister saam met gelowiges oor die hele wêreld die opstanding van Jesus gevier. Paassondag bly die hartklop van die Christelike geloof. Sonder die opstanding sou daar geen evangelie wees nie, geen hoop wat verder strek as die graf nie, geen oorwinning oor die dood nie.
Die apostel Paulus skryf in 1 Korintiërs 15 dat die dood deur een mens gekom het. In Adam het sonde en dood soos 'n donker stroom deur die hele mensdom gevloei. Die werklikheid van die dood raak elkeen van ons. Dit is die gevolg van die sondeval – “die loon van die sonde is die dood” (Romeine 6:23). Geen mens kon homself uit hierdie mag losmaak nie. Geen goeie werke of godsdienstige pogings kon die skuld uitwis nie.
Maar dan kom daardie kragtige woorde: “Maar nou …”
Met daardie twee woorde breek die lig deur. “Maar nou, Christus is opgewek uit die dood …” Die donker Vrydag het nie die laaste sê gehad nie. Die graf was nie die einde van die verhaal nie. Die Vader het sy Seun opgewek. Die opstanding is God se bevestiging dat die offer volkome aanvaar is. Die kruiswoord “Dit is volbring” het 'n hemelse “Amen” gekry in die leë graf.
Paulus noem Jesus die “eersteling” uit dié wat gesterf het. In die Ou Testament was die eersteling die eerste gerf van die oes wat na die Here gebring is as teken dat die hele oes aan Hom behoort en dat daar nóg kom. Wanneer die eerste gerf gesny is, was dit 'n waarborg: die res volg. So is Jesus se opstanding die waarborg van ons opstanding. Sy leë graf is nie net 'n wonder van die verlede nie – dit is 'n belofte vir die toekoms.
Omdat Hy lewe, sal elkeen wat in Hom glo, ook lewe. Ons verbondenheid met Adam het ons in die dood ingetrek. Ons verbondenheid met Christus trek ons in die lewe in. Hy het deur die dood gegaan – en anderkant uitgekom. Nou lei Hy ons op dieselfde pad. Die dood is nie meer 'n muur waarteen jy vasloop nie; dit is 'n deur wat Hy reeds oopgemaak het.
Dit verander hoe ons vandag leef. Ons leef nie meer as mense wat deur vrees oorheers word nie. Ons leef as mense van hoop. Ons aanbid nie 'n herinnering van die verlede nie; ons dien 'n lewende Here vandag. In elke donker dag, in elke verlies, in elke onsekerheid fluister die evangelie: “Maar nou …” Maar nou is daar vergifnis. Maar nou is daar versoening. Maar nou is daar hoop. Maar nou is daar lewe – ware, ewige lewe in Christus.
Dankbaarheid vir die leë graf is daarom nie net 'n gevoel nie – dit is 'n nuwe manier van lewe. Dit is om elke dag te stap in die lig van die opstanding, met moed in die hart en sekerheid in die siel.
Gebed: Here Jesus, dankie vir die leë graf. Dankie dat U die dood oorwin het en dat U leef. Dankie dat u opstanding my hoop en my toekoms verseker. Help my om elke dag te leef in die krag van u opstanding – met geloof, met moed en met dankbaarheid. Amen.